Hoofstuk 1 in die “Waarheid oor die Wincklers!” 6 February 2014

Lian en Simeon se verjaarsdagpartytjie!
Lian en Simeon se verjaarsdagpartytjie! 23 May 2013
July 3, 2014
maart 2013 LIG 2
Meer Kwesbaar, Maart 2013
July 25, 2014
Hoofstuk 1 in die “Waarheid oor die Wincklers!”

Dit het als een Saterdagoggend op pad na Moorreesburg vir ’n vroue-oggend begin… Die geel kanola-kombers het wyd en dik oor die lande gelê het en die lug was snak-na-asem-mooi blou. By Riebeek-Kasteel het ek vir Heinz gewys waar Sumari, my beste vriendin, getrou het (hy kon ongelukkig nie destyds daar wees nie) en ons maak geselsies met vreemdelinge op straat. In my kop begin daar allerhande gedagtes loskom. Sommige goed, ander twyfelagtig. Die atmosfeer op Moorreesburg is elektries en die hele dorp kom blykbaar tot stilstand om hierdie fees by te woon.

Terug op die mooie pad deur Stellenbosch, Somerset-Wes en die kuspad langs Bettysbaai toe (waar ons twee bloedjies by Ouma vir ons wag) uiter ek uiteindelik dit waaroor ek al heeldag wonder: “Ek kan nie glo hier is mense watactually hier bly nie. Hoekom bly ons in die gejaag, tussen grys murasies, verkeer, e-tol-paaie en hoë sekuriteitstelsels sónder berge, die see, die blomme en die geleentheid om my (amper 3) kinders in die mooiste mooi natuurskoon groot te maak?

Die saadjie was gesaai en sommer dadelik baie natgegooi sodat hy kon posvat en saam met die saadjie in my baarmoeder, soos die bielie van die bosveld, begin groei. Heinz het nie twee keer gedink nie. Hy wou al in Stellenbosch trou, toe ek, die stoere stadsjapie, hom oortuig het die Rand is beter. (WAT HET MY BESIEL??) En, toe ons 6 jaar gelede in die VSA toer, was ons droom om 6 maande van die jaar dáár te bly en 6 maande van die jaar in die Kaap. (Dis belangrike nuttige inligting wat wel later van toepassing gaan wees.)

Ek het begin dink en droom oor die moontlikhede: kinders in nuwe skole, besighede wat besig is vanuit nuwe basisse…naweke op strande, wynplase, en hoë berge… Die waarheid het my in die gesig gestaar: “NIKS hou ons in Johannesburg nie (behalwe ons amazing vriende en familie natuurlik!) Ek en Heinz kan albei van enige plek in die land af werk en as ek eintlik net op my (tans baie dik) bas kan sit en lullabies, liedjies, blogs en boeke skryf, sal ek dolgelukkig wees! Maar uiteindelik is ek ’n mamma wie se prioriteit dit is om haar kinders veilig en gekoesterd te laat voel en as die mamma self so opge-charge is soos ’n Duracell-battery of ’n Blou Bul-ondersteuner, is dit soms moeilik om net glimlaggies en liefies uit te straal.

Property24 was my nuwe beste vriend. Gaan ons huur of gaan ons koop? Huur. Ná twee keer se op en af vlieg om huise te soek verander die saadjie se wortelskiet. Koop. Weer op en af vlieg – vergeefs. Ons het soveel spesifikasies dat dit moeilik is om iets te kry met genoeg ruimte vir pappa, mamma, 3 kinders, 2 ateljees, 1 inbly-helpertjie (ek sou nêrens sonder haar nie) en ’n plekkie vir oupa en ouma om te slaap as hulle kom kuier. En as ons natuurlik ’n sliert van ’n berg of die see kon sien, sou dit baie help.

Dan het dié huis dít maar nie dát nie. Die ander een dát maar nie dít nie. En net nooit kry ons die één huis met als wat ons nodig het nie.

Toe ons koppe bymekaar gesit het om te besluit wanneer die beste tyd is om te trek, het dit sin gemaak om dit saam met die nuwe jaar te doen. Dit sou die minste ontwrigting vir die huishouding beteken met die kleintjies wat in die nuwe jaar skool by ’n nuwe skool kon begin én ons huurkontrak het eintlik begin Desember by ons huis in Johannesburg verstryk.

Ons het dus kennis gegee en geloof gekweek.

Net toe ons besluit ons laat weet al die agente dat hulle eerder ouer, groter huise moet soek wat ons self kan restoureer, laat weet een agent dat hy ons huis vir ons gekry het. Die enigste catch is dat die huis eintlik reeds verkoop was, maar onderhewig is aan ’n ander transaksie wat volgens die agent heel moontlik nie gaan gebeur nie. Hy stuur die foto’s aan. Ons is verlief. Dis óns huis. Dis óns spasie. Dis óns kombuis. ÉN dis die grootste inloop-kas in die geskiedenis. Ons moet wag. Dit was die naaste wat ek gekom het om my naaste ’n on-ding toe te wens, maar besluit om te vergeet van die huis en die hele storie net vir die Here te gee en te ontspan. Dís baie moeilik.

’n Week voor die koop finaal óf sou deur óf sou faal, laat weet die agent ons kan daardie komende naweek na die huis kom kyk, toe ons weer “toevallig” vir ’n damesoggend in die Kaap moes wees. Dit voel soos ’n groot oudisie of werksonderhoud toe ons voor die deur staan. Dis pragtig, ruim en het die mooiste uitsig oor die see. Ja, dis nie perfek nie (is daar so iets?) maar dit het alles wat ons nodig het, en meer. Toe dit lyk of ek twyfel, sien ek ’n Worship Today-tydskrif op die bedkassie van die hoofslaapkamer lê met my gesig op die voorblad. Ek raak dadelik tranerig. Dis my teken. Dis ’n ou tydskrif en die huiseienaar het nie geweet wie na sy huis kom kyk nie… Ons sit ’n aanbod in. Dit word aanvaar, onderhewig aan die vorige koop wat nie deurgaan nie, en die regsproses begin…

Die “Waarheid oor die Wincklers” is egter ’n taai stuk steak wat vir seker nie in een uitgawe gaan pas nie en daarom gaan ek sommer binnekort hierdie storie voortsit en weer voortsit, want wat ek julle kan verseker is die volgende: In die afgelope 4 maande is daar baie in ons huis gelag, en bitter baie gehuil, ontsaglik min geslaap: ons het “WOW”-oomblikke gehad en ons het “ek-kan-nie-glo-dit-gebeur-met-ons-nie”-oomblikke. En ’n paar terme wat ek gaan gebruik in die volgende blogs sluit in: “eviction”, “bode van die hof”, “Homeland Security”, “vlug verpas”, -“20 grade Celsius”, “grootste sneeustorm in jare,” “avontuur” “agtergebly in Dakar” “kwotasies” “geweeg-  en te lig bevind”  “honderde duisende Rande”

To be continued

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *